Ek werk in die industrie van HOOP.
Ek glo dat mense die potensiaal en innerlike sterkte het om aanpassings te maak, te kan verander, ontwikkel en groei.
ʼn Eerste tree na ʼn goeie môre begin dalk klein, maar vandag.
Dan is nuwe moontlikhede en ervaringe om die draai…
My terapeutiese benadering:
In my praktyk werk ons vanuit ‘n positiewe sielkunde en gefokusde oplossings benadering sodat kliënte so gou as moontlik kan kom waar hulle graag in hul lewens wil wees. ‘n Verskeidenheid terapeutiese tegnieke, teorieë en beginsels word ingespan, afhangende van die behoefte en persoonlikheid van die individuele kliënt.
As lede van die Health Professions Council of South Africa (HPCSA), verbind ons ons tot etiese, professionele en verantwoordelike kwaliteit dienslewering. Konfidensialiteit, integriteit, professionele verhoudinge en respek vir ons kliënte se menswaardigheid is vir ons ʼn prioriteit.
My passie en fokus is kinders en jongmense se optimale ontwikkeling en bemagtiging vir hul toekoms. Dit behels hul emosionele, sosiale, intellektuele en skolastiese ontwikkeling binne hul gesin en leefwêreld. Assesserings, intervensie-strategieë en terapie is individueel gerig op die individu of gesin se unieke behoeftes. Daardeur ontwikkel kliënte hoop, positiewe perspektiewe en vaardighede.
Wie ons is:
Anys Rossouw:
082 801 1830
anys@anys.co.za
Anys het op George in die Wes-Kaap groot geword en gematrikuleer. Sy studeer aan die Universiteit van Stellenbosch en begin haar onderwysloopbaan in die Wes-Kaap. Sy hou aanvanklik in die voorstede van Kaapstad en later op Stellenbosch en Randburg skool. Aan die Hoërskool Randburg beklee sy die pos van departementshoof Opvoedkundige Leiding en is verantwoordelik vir leerders wat skolasties, emosioneel of andersins uitdagings ervaar. Sy behartig ook die skool se vakkeuse- en beroepsleidingproses, wat assessering en leiding aan kinders, hul ouers en onderwysers insluit. Sy ontwikkel ʼn kursus om kinders se emosionele intelligensie te ontwikkel.
Sy studeer verder aan die Randse Afrikaanse Universiteit en kwalifiseer haar as Opvoedkundige Sielkundige. Sy werk na haar internskap by die Instituut vir Kinder- en Volwasse Leiding by RAU en later as sielkundige by Hoërskool Randburg. Vir die afgelope 20 jaar werk sy in haar eie privaat praktyk.
Anys het al verskeie werkswinkels en praatjies aangebied vir ouers en ondersyers by skole en kerke, radio-onderhoude gedoen en as gas opgetree op die televisie-program, Robinson Regstreeks, oor die onderwerp Kinder-Selfdood.
Sy het ook al die volgende CPD geakkrediteerde werkswinkels vir sielkundiges aangebied: Tem die Woede-monster: Hantering van kinders wat buite beheer optree. Dissipline wat kinders se selfbeeld, selfvertroue en verantwoordelikheid bevorder. Hoe om kinders se emosionele intelligensie te ontwikkel.
Sy skryf sedert 2002 gereeld vir die vroue tydskrif Rooi Rose sielkunde artikels rakende kinderopvoeding, ouerskap en verhoudingsprobleme. Van die artikels is te lees op die Webwerf onder Inligting.
Anys het al verskeie werkswinkels en praatjies aangebied vir ouers en ondersyers by skole en kerke, radio-onderhoude gedoen en as gas opgetree op die televisie-program, Robinson Regstreeks, oor die onderwerp Kinder-Selfdood.
Sy het ook al die volgende CPD geakkrediteerde werkswinkels vir sielkundiges aangebied:
- Tem die Woede-monster: Hantering van kinders wat buite beheer optree.
- Dissipline wat kinders se selfbeeld, selfvertroue en verantwoordelikheid bevorder.
- Hoe om kinders se emosionele intelligensie te ontwikkel.
- Angstige kinders: Hou hul koel komkommer.
Anys se kwalifikasies:
- Registrasie by HPCSA as Opvoedkundige Sielkundige 1999
- M Ed Opvoedkundige Sielkunde (Cum Laude): RAU, 1999
- Verdere Diploma in Onderwys en Opvoedkundige Leiding: Onderwyskollege van SA (Unisa), 1993
- B Ed (Cum Laude): RAU, 1990
- Nagraadse Diploma in onderwys: Universiteit van Stellenbosch, 1983
- BA: Universiteit van Stellenbosch, 1982
Almarié Jacobs
082 468 5611
almarie@anys.co.za
Almarié het in Thabazimbi gematrikuleer en daarna aan die Randse Afrikaanse Universiteit gaan studeer. Sy begin haar loopbaan as hoërskool-onderwyseres in Randburg en beklee later die pos van Departementshoof Opvoedkundige Leiding. Gedurende hierdie tyd voltooi sy ‘n Honneurs in Opvoedkundige Sielkunde waarna sy by die HPCSA registreer as Geregistreerde Berader.
Daarna het sy vir ‘n tydperk van 12 jaar gepraktiseer as Geregistreerde Berader in beide staat en privaatskool-omgewings. As skoolberader het sy met leerders van verskeie ouderdomme en agtergronde gewerk en ondervinding opgedoen in die verwikkeldheid van sielkundige- en leerondersteuningskwessies.
In 2017 het sy haar permanente betrekking as skoolberader verlaat om haar verder te kwalifiseer en haar dienste in privaat praktyk voort te sit. Sy praktiseer tans as Opvoedkundige Sielkundige en bied gereeld praatjies en opleidingsessies in die skoolgemeenskap aan. Dit is haar passie om kinders, adolessente, en hulle families te begelei in ‘n proses om hulle behoeftes en uitdagings effektief en met hoop te hanteer.
Almarié se kwalifikasies:
- Registrasie by HPCSA as Opvoedkundige Sielkundige 2021; PS 0149217
- M Ed Psig (Cum Laude): Universiteit van Pretoria, 2020
- B Ed Psig Hons (Cum Laude): Universiteit van Johannesburg, 2005
- B Ed Hons Afrikaans (Cum Laude): RAU, 1997
- BA Ed: RAU, 1996
Desiré Linde:
066 398 9905 anys@anys.co.za Praktykbestuurder en ontvangsdame.Dienste
Ons fokus op emosionele-, leer-, gedrags-, sosiale- en ontwikkelingsprobleme in kleuters, kinders, adolessente en studente binne die sisteme waarin hulle funksioneer. Hierdie sisteme sluit die familie, skool, portuurgroep en gemeenskap in. Om hulle emosioneel, akademies en sosiaal te ondersteun, bied ons die volgende dienste:
- Terapie vir emosionele, sosiale, aanpassings- en gedragsprobleme
- Emosionele en skolastiese assesserings
- Vakkeuses en beroepsleiding assessering en prosesse
- Leerondersteuning, studiemetodes en vaardigheidsontwikkeling
- Ouerleiding
- Samewerking met onderwysers en ander professionele persone in ‘n multi-dissiplinêre span
- Opleiding, kursusse en aanbiedinge rakende onderwerpe soos kinderontwikkeling, dissipline, ouerleiding, studiemetodes, sosiale vaardighede, emosionele vaardigheidsontwikkeling, ADHD, trauma, angs, depressie en die ontwikkeling van emosionele intelligensie.
Terapie
Deur middel van terapie kry kleuters, kinders, adolessente, jong mense en hul ouers die geleentheid om hulle gedagtes, gevoelens en gedrag te verken in ‘n veilige ruimte van vertroue, onvoorwaardelike aanvaarding en ondersteuning. Tipiese probleme wat deur psigoterapie aangespreek kan word sluit in:
- trauma
- depressie
- angs, soos ook eksamenangs
- hantering van verlies en rou
- motivering
- dissipline
- slaapprobleme
- uitdagende / aggressiewe gedrag
- selfbeeld ontwikkeling
- sosiale/emosionele stres
- egskeiding
- leer en studie-vaardighede
- aandagafleibaarheid, konsentrasieprobleme
- rigiede, kompulsiewe obsessiewe gedrag en denke
Terapeutiese tegnieke:
- Solution Focused Brief Therapy (SFBT)
- Brain Working Recursive Therapy (BWRT) vir trauma en angs
- Hipnose: Egostaat terapie
- Eye Movement Integration (EMI)
- Kognitiewe gedragsterapie / Cognitive Behavioural Therapy (CBT)
- Spelterapie
Assessering
Deur assessering word leerders se behoeftes en bates vasgestel om doeltreffende en toepaslike ondersteuning te kan bied of aan te beveel. Deur die gebruik van ‘n verskeidenheid assesserings-instrumente en tegnieke word verskeie areas van funksionering geassesseer om ‘n holistiese beeld van die leerder te verkry. Die volgende assesserings word gereeld gedoen:
- Skoolgereedheid
- Vakkeuses
- Beroepsassessering wat belangstelling, aanleg, persoonlikheid en waardes insluit.
- Akkommodasies en konsessies
- Intelligensie
- Emosionele intelligensie
- Persoonlikheidstoetse
- Leervermoëns: neurologiese ontwikkeling, visueel-motoriese integrasie, visuele persepsie, ouditiewe persepsie, aandag en konsentrasie
- Skolastiese vaardighede: lees, skryf, spel en wiskunde
- Emosionele en sosiale ontwikkeling
Addisionele bronne & inligting
deur Anys Rossouw
Podcast Internet-skakels:
Die volgende podcasts is gemaak spesifiek vir die tuisbly – uitdaging in die tyd van Covid19.
Kommunikasie en konflikhantering tydens lockdown met Anys Rossouw.
Tydens inperking het verhoudingsmaats minder vryheid, minder spasie, ‘n ander roetine en dalk ekstra verantwoordelikhede soos huistakies of kinders besig hou.
Moenie dat dit jou verhouding skaad nie – hier is praktiese wenke vir goeie kommunikasie en konflikhantering.
Klik hier om meer te weet.
Raadop met jong kinders tydens lockdown hier is hulp met Anys Rossouw
Maak die lewe vir jou én jou voorskoolse of laerskoolkind makliker met voorspelbaarheid, struktuur en oulike idees vir speel wat kernvaardighede bevorder.
Klik hier om meer te weet.
Hinder “lockdown” jou? Hanteer dit só met Anys Rossouw
‘n Krisis soos Covid-19 hou gevaar in – maar ook geleenthede. Hier is praktiese raad om jou vrese en frustrasies te verminder en jou gereed te maak vir ‘n groeitydperk hierná.
Klik hier om meer te weet.
Kontak ons
Hoe werk verwysings vir kinders?
Ouers of voogde kan ons direk kontak rakende hulle kind, of kinders kan ook verwys word deur onderwysers, dokters of ander professionele persone in die gesondheidsindustrie.
Beide die ouers of wettige voogde se toestemming vir kinders van twaalf jaar en jonger is nodig voor enige konsultasie met ʼn kind.
Die proses met kinders?
Kontak ons om ‘n afspraak te maak vir ʼn ouer invoeronderhoud waartydens u behoeftes en kommernisse asook moontlike hanteringstrategieë bespreek sal word. Hanteringstrategieë kan veranderinge wat ouers en kinders tuis kan aanbring, ouerleiding of terapie en / of assessering van die kind behels.
Konsultasies / Terapie sessies:
- Sessies geskied slegs op afspraak.
- ʼn Terapie sessie / konsultasie duur 50 minute.
- Mediese fonds tariewe word gehef.
- Die kliënt / ouer van minderjarige kinders is verantwoordelik vir die betaling van die rekening.
Praktyk besonderhede, kontrak en toestemmingsvorms:
Kyk asseblief na ons kontrak en toestemmingsvorm voor jou eerste afspraak.
Jy hoef dit nie vooraf te druk en te teken nie. By jou aankoms sal jy ʼn kopie daarvan kry om te teken. Indien jy dit egter reeds gelees het en net vinnig kan invul en teken, spaar dit tyd.
Klik hier vir die vorm vir kliënte ouer as 18 jaar
Klik hier vir die vorm vir kliënte jonger as 18 jaar (wat deur hul ouers/voog geteken moet word)
| Epos: | anys@anys.co.za |
| Praktyk: | 012 460 7366 / 066 398 9905 |
| Nood: | 082 801 1830 |
| Adres: | 6de Straat 29 Menlopark Pretoria 0081 |
Praktykbestuurder: Desiré Linde
Tye:
Ontvangsdame:
Maandag tot Vrydag: 8h00 – 13h00
Konsultasie:
Maandag tot Donderdag:
8h00 – 13h00 en 14h00 – 18h00
Vrydag:
8h00 – 13h00 en 14h00 – 16h00
Kontak ons gerus en maak ʼn afspraak:
Skype / Zoom / WhatsApp video-oproep sessies is moontlik.


